Survivor Israel
Oorsigreeks vanaf 1 Konings tot Maleagi
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Rugstekery, verbreekte alliansies, leuens en Immunity Idols! Wat kan ons vir kinders uit God se Woord leer met Survivor as tema? Ek het self my bedenkinge gehad, maar het gou met die lees van die boeke 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, wat die basis van hierdie reeks vorm, besef dat dit die ideale tema is! Die twaalf stamme van die Vereenigde Ryk, die skeuring van die Ryk tussen Juda en Israel as gevolg van afgodediens en die daaropvolgende ballingskap na Babel (Exile Island) is genoeg om die hedengaagse Survivor-deelnemers ’n ding of twee te wys! Hierdie val-en-opstaan verhale van die volk van God is by uitstek ’n geval van Survivor: Heroes vs Villians. Tussen die lang lys ongehoorsame konings van Israel en Juda vind ons helde soos konings Dawid, Josafat, Joas en Hiskia wat deur hul gehoorsaamheid aan die Here kies om ’n skoon, eerlike spel te speel. Ons hoor van die alliansie tussen die profeet Natan en koning Dawid se vrou, Batseba. Ons sien hoe die profeet Elia homself moedeloos onder die besembos op Exile Island, waarheen hy homself gestuur het, bevind en hoor van Jona se stryd om oorlewing op pad na Nineve. Ons leer God ken as dié God wat sy volk se oortredinge oordeel, maar deur sy liefde en genade ’n groepie laat oorbly uit wie die Ultimate Sole Survivor, Jesus Christus, later gebore word.
Tesame met In die Kollig, die voorloper tot Survivor Israel ontdek ons in 39 Bybelboeke meer intriges, uitdagings en oorwinnings as wat al die Survivor-deelnemers in 39 dae kan beleef!
Survivor Israel is ‘n reeks waarin 9- tot 13-jariges die verhaal van die Ou Testament, vanaf 1 Konings tot Maleagi, ontdek en uitgedaag word om Soul Survivors in God se koninkryk te wees.
Welkom by Survivor Israel: Oortree, Oordeel, Oorleef!